Die Walker is, soos ons altyd herinner word, een van die belangrikste museums in Amerika. Toe die nuwe Herzog und De Meuron addisie aangebou en geopen is, was die openingsparty 'n sukses - toe ekself daarby so rondgedwaal het, het ek voor 'n Rothko gestop en naas 'n klein dwergie gestaan, toe besef ek dis Björk! Wel, dit sê baie oor die Walker se cachet.
Maar die Walker stal so baie slegte, minderwaardige kuns uit, dat ek amper nooit aanleiding kry nie om daar besoek te gaan aflê. Nés met daai Thomas Hirschhorn Arschloch af Switserland af. Die ou het feitlik die inhoud van sy kloset op die vloer gegooi. En ons is veronderstel om dit te waardeer? Jy móét! Sodra jy daardie ruimtes van die Walker betree, besef jy dadelik jy is 'n zero. Die argtektuur is so fascisties, so outoritêr, jy word heeltyd herinner dat jy te simpel is om hierdie ground-breaking bullshit te deurgrond.
Soos by amper elke kontemporêre kunsuitstalling, het die plakkate wat by "The Body Politic" gehoort het, gelyk asof hulle deur 'n viertienjarige opgestel is. Die teoretiese raamwerk waarbinne dit geplaas is, was soos altyd volop met winderige verklarings. Soos bevoorbeeld: "Images of the human body reveal a great deal about the cultures that produce them." As ek só 'n bewering in Kenneth Clark se The Nude gelees het, sou ek geweet het, daar kom nou-nou 'n indieping in die kwessie in. Nie die geval met die Walker nie - hulle wil net vrae stél, 'n besprekinkie aanstig. Wel, dis altyd maklik om te vra en 'n diskussie te hê, maar dis cocktail party nonsens. Dis egter veel moeiliker om tot 'n oorwoë oordeel te kom en dit te probeer verduidelik. Quelle horreur! Nee, enige iets wat na 'n inkrimping smaak, moet afgeweer word. Dus laat ons sommer in die bos van onderlinge warm fuzzies eindeloos ronddwaal.
Van die talle ekspressionistiese litografieë wat ek bewonder het, kan ek eerlik sê ek het niks vanaf die Duitse of Oostenrykse kunsskatte oor hul beskawings geleer nie, buiten dat Duitsers en Oostenrykers te veel angs het. Maar dis bog. Die prente van Max Beckmann, Egon Schiele, Ernst Ludwig Kirchner, Max Pechstein, en Otto Dix was almal geweldige uitdrukkings van primêre form, van die eerste moment van persepsie. Des te indrukwekkender is dat al die prente vanuit òf private versamelings in die Minneapolis-omgewing, òf vanuit die Weisman Art Museum, Minneapolis Institute of Arts, of Walker Art Center se besit gekom het.
Twee besonders interessante kunstenaars is Isabel Bishop en Henry Darger. Bishop se sin van skaduwee, haar verstand van hoe liggame buig, sak, of draai is meesterlik. Haar klein genrestukke van mense op straat was klein kykies in die vroeë 1900s, 'n tyd toe Amerika nog steeds trots kon voortbeur. Henry Darger was in 1892 gebore, en het die oorgroot gedeelte van sy lewe in Chicago deurgebring, waar hy as 'n deurwagter gewerk het, en waar hy al sy vrytyd gewy het op sy kinderboekie oor aliens en kinders en ander snaakse goed. Darger was geestelik vertraag, maar nie soseer dat hy nie 'n job kon hê nie. Dit het tot gevolg gehad dat hy nie belemmer was met tradisionele opvoeding of 'n sin dat hy dalk 'n waansinnige projek onderneem nie. Net 'n klein deel van die groot krul wat hy geteken het was daar ter uitstalling. Dit laat jou bietjie nydig vir die waansinniges raak - hoekom mag hulle sukke visioene hê en nie ekke nie?
Op die ou end het ek en Bell-Pakis besluit, nee, dis 'n goeie sjou en kom ons gaan drink 'n biertjie by die King & I.
Monday, January 8, 2007
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment