Sunday, January 21, 2007

Nieks kieks! - Vanuit Plato se grot

My huismaat raak dikwels opgewonde oor dinge wat ek soms met agterdog bejeën - conspiracy theories meesal, en hy praat dan uitvoerig daaroor terwyl ons in die kombuis sit en koffie drink. Ek stel my dan dikwelser tot die taak om hom tot 'n taamlike bedaring te bring, om aan historiese gegewens aan te roep en altyd 'n sekere weloorwoë perspektief te probeer behou. Nie omdat ek nie in die moontlikheid van komplotte glo nie, maar omdat ek bewyse wil sien, want bespieëling is mos net dat, 'n waarneming wat op sigself ontwikkel tot verbeelding. Spekulasie is die broeiplek van nuwe idees, en sonder hom sou ons sommerso begin verstar, maar om produktief voort te gaan moet dit gepaard gaan met intellektuele eerlikheid.

Dus toe hy vir my sy kopie van Morris Berman se The Twilight of American Culture leen, het my argwaan toegeneem as ek dit begin lees het. Uitlatings soos "factors such as the widening gap between rich and poor; the growing climate of apathy, cynicism, and corruption; and the dramatic drop in levels of literacy and overall intellectual awareness" laat my nekhare rys. Natuurlik nie omdat ek glo Amerika baai in 'n soort van Verligting op die oomblik nie. Maar eerlik besien, hoe kan jy sukke bewerings koester? "The widening gap between rich and poor" - wyer as toe in die Middeleeue waar die rykes letterlik neghe-en-neëntig persent van die weelde gehad het, of tydens die "Robber Barons" van die laat neëntiende eeu toe vyfjarige kinders in fabrieke gesloof het? Asseblief tog. Die toenemende klimaat van apatie, sinisisme, en korrupsie is nie aan die hede eie nie, nòg is dit aan Amerika eie nie. 'n Mens hoef net die 1100-jarige geskiedenis van Bisantium te bestudeer om te sien hoe 'n regering korrup maar volhardend kan voortlewe. Dramatiese afsakkings in geletterdheid en algemene intellektuele bewussyn is moeilik om te meet. As 'n mens van neergang wil praat, voorveronderstel dit dat daar 'n hoëre posisie was waarvandaan ons aftakel, en nes by sy ander bogenoemde bewerings, wanneer was ons beter geletterd en intellektueel bewuster? Toe slegs monnike kon lees en almal gedog het die wêreld is 'n koek met drie lae wat bo-op 'n tortel sit?

Tegelykertyd stem ek heeltemal met hom saam. Elke dag sien ek raak hoe Amerikaanse tieners min nuuskierigheid vir die "ander" toon, hoeveel hulle vir idiotiese tegniese gereedskappe omgee, hoe hulle nog idiotieser tv-shows met mekaar en met groot psigo-spirituele belegging bespreek. Dis my nuwe spel om te tel hoeveel studente onmiddelik ná les òf hul selfone aansit om boodskappe te check (ek terg hulle altyd met vrae soos, "What are you, a KGB sleeper agent? D'ja get your wake-up call?") òf hul iPods aan te sit om die daelikse lewe rondom hulle uit te gons. Ja, die land van Nimmendal en Fôkôl heet jou welkom!


Op 'n egter positiewe noot, is daar baie om bly oor te wees. Tydskrifte soos Harper's, Atlantic Monthly, The New Yorker, en koerante soos The New York Times en The Washington Post is wat kwaliteit aanbetref uitstekend. Die versamelings in museums soos The Getty, The Art Institute of Chicago, The Metropolitan Museum of Art, The Philadelphia Museum of Art, The Museum of Modern Art, selfs The Minneapolis Institute of Arts is geweldig. Die groot hoeveelheid musikante, kunstenaars, wetenskaplikes en skrywers is sprekende bewys van die skeppingskrag van Amerika. Tog wil ek padgee.

Waarnatoe? Waar in die Wes is daar 'n heenkome van hierdie barbarisme? Is daar enige Australiërs, Suid-Afrikaners, Nieu-Seelanders of Britte wat nie dink so 'n analise geld vir húl maatskappye nie? Of moet ons in 'n Rousseauiaanse swerm ons eie Tahitis iewers in die oerwoud gaan vind?

Die enigste keuse vir mense wat al hierdie probleme (kan) deurgrond, is die "new monasticism" wat Berman ondersteun, dat mense alternatiewe leefwyses kan kweek onder die sambreel van die gaande mainstream, dat ons so te sê die kerse nie sal laat doodgemaak word nie, nes daai monnike in die donker dae van die pos-Romeinse orde. Ons is diegenes wat ons kinders sal opvoed met besoeke aan museums, met die aanleer van ander tale, met tuinwerk waar jy leer om te boer en kompos, met die boekleer, met die maak van musiek, met die kook van heilsame kos, met eksperimenteer in die wetenskaplike metode, met die waarneem van die natuur, met die oefening en opbou van hul liggame, en veral met 'n toon op die strewe na die waarheid, dat ons ons stellings onemosioneel kan verander wanneer nuwe ontdekkings, gegewens, en idees vorendag kom.

Hopelik sal ons ook 'n sekere elitisme begin kultiveer, 'n elitisme gebaseer op die vermyding van dit wat net vulgêr, onnosel, kortsigtig, leeg, en geesteloos is. Amerikaners is besonders gekant teen elitisme, omat al ons voorouers net bywoners en peasants was. Maar dis ook twak, want ons verafgod heeltyd celebrities, atlete, besigheidsmans, en politici. Robert Hughes se karakterisering van Australiërs in hierdie opsig is behulpsaam: "Australians have no difficulty with elitism in sports. On the contrary, it fuels their imaginations, it blots up their leisure time, and they prize it as their chief claim to national distinction, especially since their political and economic importance is so unfairly slight in most of the world's eyes. ... Competitive sports is not just an example, but the very essence, of elitist activity: by its nature, a competition can yield only one winner as against a number of losers. But if the harmless culture elitist is not a sport elitist, and unwisely confesses that he doesn't care who wins what at any Olympic Games, then woe betide him." Vir Australiërs, mense wat 'n ware voorbeeld van ballingskap, dwang, ontworteling, van afvoer in kettings is, is die omarming van elitisme besonders verwarrend. Maar net omdat ons konsep van wat elitisme is, stukkend is.

Wat my regtig ontstel, is dat mense nie bodder om hulselwers op te voed nie. Ons universiteite bons met 'n swetterjoel wat nie behoorlik Éngels kan skryf nie, wat dan te sê van die opstel van 'n essay. Dis pynlik duidelik vir my dat die gespuis wat so neëntig persent van ons land uitmaak, skokkend oningelig en simpel is. Kyk net wat gebeur as jy hierdie mense toelaat om by verkiesings te stem! Of probeer om in 'n alledaagse gesprek 'n mitologiese or literêre aanwysing te maak, of 'n vreemde woord (Frans, Latyns) te gebruik, of gewoon die geselsie op 'n logiese pad te hou, sien jy dadelik die idiosie. Dog dít is ook twakkerig, want mense was altyd so, dis gewoon egotisties om te dink dat jou tydperk op die aardbol spesiaal is. Dis presies dieselfde met globale verwarming, mense veronderstel 'n massiewe ramp, maar hulle vergeet die aarde het heel lang tropiese periode deurgegaan voor ons hier was. En so aan, en so aan.

Dus wanneer ek aan my bydrae dink, dink ek veral aan al my studente by die University of Minnesota en Macalester College. Ek koester die dalk dwase hoop dat ek 'n effek op hierdie mensies kan uitoefen. Nie om hul breine met links-gesinde dogma op te vul nie, of my tot taak te stel om ál die opvoeding wat hulle gemis het, reg te stel nie, maar om 'n oriënteringspunt aan te bied, selfs as hulle dit net subliminaal besef. Miskien sal een van daardie studente eendag in 2017 'n konneksie maak en daardeur gegalvaniseer voel om ook hul eie bydrae te probeer lewer, om hul kerse te weer teen die stroom van biljoene en biljoene van Kreties en Pleties wat onwetend die tuine van kultuur, van skoonheid, van skepping vertrap.

No comments: