Sunday, January 14, 2007
J. du P. Scholtz as Filoloog
Johannes du Plessis Scholtz is die vernaamste Suid-Afrikaanse filoloog wat ooit geleef het. Sy curriculum vitae is uitstekend, soos dié van baie ander briljante denkers. (Dink net aan N.S. Trubetskoi, wie begin publiseer het toe hy op die rype ouderdom van vyftien was, en wie naderhand die hele koers van die studie van tale in die twintigste eeu opnuut bepaal het.) Hy het eers studeer by die pas herbenaamde Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1920 die M.A.-graad behaal het met 'n tesis oor die taal van die Lambertbaaise vissers. Hy het 'n Ph.D. by die Gemeentelijke Universiteit in 1927 behaal en in 1938 vir die D.Litt. gepromoveer onder C.G.N. de Vooys met Die Afrikaner en Sy Taal, 1806-1875. Dié boek is toe met die eerste Hertzog-Prys vir wetenskaplike prosa bekroon. In 1934 het hy 'n lekoraat in die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit Kaapstad aanvaar, waar hy in 1950 Hofmeyr-professor en hoof van die departement geword het. Hy het toe in 1965 afgetree om sy tyd aan ander vraagstukke te wy, met name die kuns. Daarop het vier monografieë oor Suid-Afrikaanse kunstenaars gevolg sowel as drie nog uiters belangrike studies oor Afrikaans, die produkte van sowat sewentig jaar se ondersoek. Dis amper iets vanselfsprekends dat hy vereer is met feitlik die grooste Festschrift wat ooit in Suid-Afrika aangepresenteer is, Dietse Studies (sien onder). Die vernaamste wetenskaplikes het daar eersterangse bydraes toegelewer, daar steek niks triviaals in nie.
Lees 'n mens die talle bladsye van getranskripeerde velgwagtersbriewe of klaagskrifte in die Van Oordt-versameling in die Gericke Biblioteek in Stellenbosch, die nimlike briewe wat Scholtz verteer het, dan verstaan jy dadelik die meesterswerk wat Afrikaans-Hollands in die Agtiende Eeu is. Die gevolgtrekkings wat hy gemaak het, die woorde wat hy in sy leksikologiese studie opgeneem het, die klankverskynsels wat hy in die studie oor die woordbou behandel, dit alles is vanselfsprekend as jy dieselfde goed begin deurboor. Dit geld vir sy ander werke ook. Dit berus daarin dat J. du P. Scholtz die eerste taalgeleerde in Suid-Afrika was wat intensiewe studies van Trubetskoi se strukturalisme en Bloomfield se beskrywende taalkunde gedoen het. Hy was op die vanguard in Suid-Afrika.
Maar terwyl Scholtz sulke baanbrekerswerk verrig het, was daar natuurlik ander taalwetenskaplikes destyds doenig. J.L.M. Franken was voorste onder hulle. Sy taalhistoriese studies het Scholtz die meeste geïnteresseer. Dan het jy J.J. le Roux en sy beroemde Afrikaanse Sintaksis, P.J. du Toit en sy Afrikaansche Studies, D.B. Bosman met Afrikaans en Maleis-Portugees, Oor die ontstaan van Afrikaans, S.P.E. Boshoff en G.S. Nienaber het begin om gereeld te publiseer, en ander, kleinere stemme was daar ook - A.C. Bouman het belangrike sintaktiese studies geskryf, terwyl Abel Coetzee volkskundige gegewens aan die lig gebring het. Die oorgroot gedeelte van hierdie professore het hul op die netelige vrae omtrent die ontstaan van Afrikaans toegewy. Baie geleerdes was beïndruk met die studies van klassisis en taalgeleerde D.C. Hesseling. 'n Paar het hom bestry, soos D.B. Bosman en S.P.E. Boshoff. Maar uiteindelik het hulle hul laat bepaal deur dié vrae. Scholtz daarenteen het gladnie met Hesseling saamgestem nie, maar hy was nie so verkramp dat hy nie 'n luminêre gees kon herken nie. Oor Hesseling het hy eens geskryf: "His name will always be honoured in South Africa, because he was the first linguistic scholar to make a sustained scientific study of the 'origin' of Afrikaans" (Encyclopædia of Southern Africa, onder Dirk Christiaan Hesseling). Die hele kwessie het Scholtz egter nie geïnteresseer nie, hy het geglo dis beter om 'n massa gegewens hetsy in geskrewe vorm, hetsy van eie opmerkings, noukeurig deur te werk en dáárvan gevolgtrekkings te begin maak. In hierdie opsig was hy eenspaaierig.
Dis moeilik om dit toe te gee, maar daar's iets provinsiaals oor al die lofsange wat op sy onthalwe gesing is. Scholtz was geen genie nie. Hy was gewoonweg 'n filoloog in die Nederlandse of Duitse tradisie, 'n belese kultuurmens. Boonal was hy 'n dénkende mens wat erg belang gestel het in die waarheid. Dit het beteken dat hy álle gegewens moes vind om tot 'n korrekte oordeel te kom. In ander woorde, hy't gedoen wat elke goeie prokureur doen: versamel alles wat te vinde is en bewerk dit. Dis al. Dis geen slegpratery nie, eerder 'n nugtere berekening, iets wat Scholtz sou gesteun het.
Maar op die ou end kan Johannes du Plessis Scholtz nie ontwortel word nie. Hy is deel van die kulturele landskap waarvandaan hy kom - hy het opsetlik oor Suid-Afrikaanse kunstenaars en oor Afrikaans geskryf, blykbaar om verdienstelik tot die Suid-Afrikaanse beskawing by te dra. In só 'n konteks moet hy dan gesien word, en is derhalwe die beskaafde mens wat almal gelof het, die vernaamste van Suid-Afrika se filoloë.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
1 comment:
My pa was ook 'n filoloog. Hy het die grootste versameling in die Paarl gehad. Ek onthou nog hoe hy elke Saterdagaand sy versameling uit 'n kas gehaal en dit met 'n tweezer versorg het - nuwe seels is soms sommer van koeverte bekom, maar die koeverte moes eers in water dryf sodat dit kon loskom sonder om die seel te beskadig. Beste tye!
Post a Comment