Sunday, January 28, 2007

Die wynbou in Minnesota

Dink aan mans in togas en jy dink aan ... regters? Nee, The Knights of the Vine, 'n Kaliforniaanse skepsel wat 'n nogals ongelooflike voortsetting was van 'n ou Franse orde. In 1973 het 'n klomp Minnesotaners besluit om dit hier voort te plant. Buite die aantrek van swart gewaad, het dit om wyn en geselligheid gegaan. Kaliforniaanse wyne vanuit die vroeë sewentigs was die middelstuk waarom feeste gebou is. My pa het bv. Gordon Schutte, ou-eienaar van die 510, gereeld opgebel met, sê nou maar 'n '72 Stag's Leap Cabernet Sauvignon, waarom Schutte dan hele aandete sou bou - hy kon sommer instinktief iets saamkry. Hulle het die Minneapolis Club (Fitzgerald se Winter Dreams) eenkeer die jaar gehuur en daar nuwe lede tot ridder geslaan, 'n aangeleentheid wat natuurlik goed geweek is met wyne wat deesdae in die duisends sou kos.

David Bailly, Minneapolitaanse prokureur, lid van die Knights of the Vine, wie se liefde vir vinifera se sap hom in die wynbou gestoot het, het in 1973 tien morge gekoop en daar foch-druiwe aangeplant. Alexis Bailly Vineyard se eerste wyn is in '77 op die mark gesit met die naam Maréchal Foch, genaamd na 'n beroemde Franse generaal van die Eerste Wêreldoorlog. Met meneer Bailly se heengaan het sy dogter, Nan, die plaas opgeneem en met die wynmaak voortgegaan.

Franse hibride soos foch, millot, en seyval was die eerstes wat Bailly geplant het, en hulle het wel goeie wyne opgelewer - ingeval hul oeste bekwaam genoeg was. Probleem is, hulle was bedoel vir eerder mildere klimaat van noordelike Frankryk, nie vir die ekstreme van Minnesota nie, en hulle moet bedek word, anders vries hul. Ook is hul weerstaan teen inheemse skimmels maar slegterig. Tog indien die druiwe gedy, kan jy 'n eg rosé uit foch maak, en die ander twee is ook nie bra sleg nie. Des te triester is dat vanjaar se foch-oes by Alexis Bailly Vineyards deur phylloxera geskadig was, en baie stokke het doodgegaan, terwyl ander Franse hibride gesterf het vanweë die lastige ophang in lente en neersit in herfs. Net die allerbeste van die oorblywendes was ingeoes en gepers, waaruit Voygeur gemaak is.


Die Universiteit van Minnesota se enoloë het hul eie afdeling in 1904 gestig, maar dit was nie tot die tagtigs nie dat hulle staatlike befondsing gekry het. Dit was hul doelwit om goeie wyndruiwe vir die Upper Midwest te genereer deur kruise met ou-wêreldse vinifera en inheemse riparia. Frontenac is hul gewildste, meesal omdat dit ook die (relatief) oudste is. Ek het ongelooflik genoeg 'n boereseun in die Vrystaat leer ken wat 'n somer in Minnesota deurgebring het by daai programma ... Franshoek lyk my so veel mooier.

Frontenac is in baie plekke in New England en die Midwest aangeplant, en die opgewondenheid neem toe. Ons sal seker twintig, dertig jaar moet wynmaak voor ons kan sê hoe jy hierdie druiwe moet gebruik. Tradisies in Frankryk en Italië het deur jaarhonderde gegroei, en ons kan nie 'n organiese proses sonder meer aanwakker nie. Ons kry wel baie goedgemaakte wyne, maar danksy die donker, ryk Minnesotaanse grond sal ons druiwe nooit moet sukkel nie, wat hulle eintlik moet as jy uitstekende wyn daaruit wil maak. Tog doen baie wynboere in Minnesota en Wisconsin aansoek om die "driftless area" as nasionaal-erkende wynboukontrei te verklaar, want daar is die bodem sanderig en vol af- en opdraande. Desniettemin kan jy 'n heel goeie witwyn in Bailly se Country White kry, met note van kalkklip en appels. Dis net 'n kwessie van tyd en ervaring, en hopelik sal ons eendag 'n wyn so goed soos 'n Constantia maak.

No comments: