Tuesday, January 2, 2007

Die Heidelberg School en Suid-Afrikaanse Impressionisme

Australië en Suid-Afrika is in baie opsigte eenderse kolonies. Altwee droë lande wat min gelykhede met die Ou Wêreld vertoon, hulle het elkeen sterk onder Engelse koloniale beleid van die neëntiende en twintigste eeu ontwikkel. Dus reis 'n mens na die twee lande, sien jy die ooreenkomste. Toegegee, hul gemeenskaplike wortels is taamlik oppervlakkig - Australië is eers in 1788 gekoloniseer terwyl Suid-Afrika reeds in 1652 bewoon was. Behalwe dat hulle 136 jaar geskeel het, was die Kaap ook kultureel anders, daar dit 'n Nederlandse besitting gewees was. Maar hulle verskille ten spyt, hierdie twee buiteposte van Engeland in die suiderlike halfrond is gerieflik om te vergelyk.

Australië, die gewese bandietekolonie, was snaaks genoeg altyd 'n bietjie liberjaler as Suid-Afrika. (Robert Hughes beskryf in sy nuwe outobiografie die konserwatisme wat tussen 1910-1960 geheers het Down Under, maar dit hoef ons nie te bodder nie. [Jy sien betreklik gou hoedat Australië, die VSA, en Suid-Afrika basies dieselfde rassebeleie tot ongeveer die neëntiensestigs gepromulgeer het. Amerika en Australië het die wysheid daar ingesien om bietjie te ontpan, terwyl Suid-Afrika besig was om te "stay the course".]) Dis dus geen wonder nie dat 'n inheemse skool van impressionisme in 1885 in Australië opgeduik het, terwyl Suid-Afrika ruimskoots 25 jaar moes wag tot 'n eg Suid-Afrikaanse Impressionisme aan die dag sou kom. En toe dit gekom het, het dit dalk wel die Australiese Heidelberg School, gebaseer nie in Duitsland nie, maar in die bos buitekant Melbourne, in Heidelberg, Victoria, oorvleuel.

Hierdie sogenaamde Suid-Afrikaanse Impressioniste het 'n klomp onderskeidelike indiwidue behels. Strat Caldecott, Florence Zerffi, Ruth Prowse, en Hugo Naudé is grootliks in lyn met die tradisionele betekenis van die impressionisme, terwyl mense soos Pieter Wenning, Gregoire Boonzaier, François Krige, J.H. Pierneef, Irma Stern, en Enslin du Plessis egter ekspressionisties te werk gegaan het. Dog hulle het min of meer almal gelyktydig geskilder, en die kultuur waarin almal beweeg het was basies dieselfde. Dus wanneer ons praat van die Suid-Afrikaanse Skool, bedoel ons hierdie breër omvang van konsuis impressionistiese sowel as ekspressionistiese kunstenaars.

Soos bo gesê, is die landskappe in Australië en Suid-Afrika vergelykbaar. Die kwaliteit van líg is gans anders as in Engeland of die Lae Lande. Dis skerper, verkragtender amper. Dis nie die melodiese Franse lig van die noordelike dele waar Monet so rondgeswerf het nie, dis nie die waterig weerkaatsende lig van Holland of Vlaandere nie, en dis ook nie die verdofte halflig van die gedurig bewolkte Britse Eilande nie. Daardie ligte is ronder en subtieler. In Australië en Suid-Afrika skyn die son deur 'n dunner atmosfeer, daar's minder wolke, en boonal land die son se strale op veral oranje-rooierige rotse, bodem. Dus kom twee skilders ter sprake, Strat Caldecott en Arthur Streeton. Albei beelders was merkwaardig omdat hulle die eerstes was om die bos eerlik te weergee in 'n eg westerse idioom, in hoofsaak omdat hulle die helse sonskyn kon behandel. Voorafgaande mensies wat pen, penseel, of kwas tot ditsy papier, ditsy skilderdoek gebring het - met Europese, verkrampte oë - het hul omgegewe milieu nie ordentlik kon síén nie. Alles was deur 'n Europese prisma gefilter. Dit had ten gevolge dat alles vóór Heidelberg of die Suid-Afrikaanse Skool derivatief en vervelig is.

Tog is die suiderlike impressionisme wat hier bepraat word, ook self derivatief. En die Suid-Afrikaanse kunstenaars wat hul daar mee besiggehou het, het grotendeels verslaaf geraak aan die ekspressionistiese tegnieke wat jare vantevore in Duitsland en Oostenryk gekweek en uitgeput is. Dis natuurlik nie om hulle belangrikheid te kleineer of onbillik te wees nie, maar jy raak bietjie teleurgestel as jy sien hoe Australiese kunstenaars soos John Olsen, Russell Drysdale, en veral Ian Fairweather hul antipodeaanse stemme ontwikkel het tot 'n eg inheemse idioom. Hul skilderye, elk op sy eie manier, weergee die wese van die "bush", en weerspieël in groot mate die estetiek van Aboriginal kuns. Suid-Afrikaanse "ekspressioniste" was darem hul vakgenote in Australië vooruit wat betref die ekspressionistiese styl, maar hulle het, nes hul land se politiese beleie, sommerso in die dertigs gestagneer.

Die groot afwykings in landskap en atmosfeer tussen lande soos Suid-Afrika of Australië en Europese lande soos Groot Britanje of Nederland het 'n nuwe, of dalk net 'n hérnieude skilderkuns in die lewe geroep. Dié was hoofsaaklik 'n reïnterpretasie van bestaande skilderskole. In hierie opsig lewer die Suid-Afrikaanse en Australiese Impressioniste gewigtige, insiggewende bydraes tot die wêreld van westerse kunste. Maar dis nogals te betreur dat Suid-Afrika onder sy eie verkramptheid moes stik terwyl die "Lucky Country" aanhou voortontwikkel het.

- 'n Uitstalling Australiese Impressionisme sal by die National Gallery of Victoria op 31 Maart begin.

1 comment:

Do Kwang said...

Ek hou van daai woord "liberjaler". Ek gaan dit gebruik.