Ontwortel met behulp van Before Sunrise en Before Sunset
Die St. Paulse winter het my aan dié stad se Verlore Seun, F. Scott Fitzgerald, laat dink. Ek hét immers sy eertydse huis verbygestap op pad hierdie vodka bar toe. Maar hier, naas die venster wat uit op Selby Avenue uitkyk, bespeur jy dit reg erg. Hierdie kwaliteit van líg is gans anders as in Kaapland, dis verdof en tegelykertyd strata-ophelderend. Jy síén die lae van die rooi sandsteen en die gesiggie van Garrison Keillor in sy boekwinkel daar anderkant die straat en dit maak sin.
Daar's hy! Ons skud hande. George se hande is groter as myne, sy greep sterker. My hand word elke keer amper gesmash. Maar ons sit ons by die venster en bestel waterige Russiese bier en ieder 'n skut Poolse wódeczka. Na zdrowie! Natuurlik skakel die gesprek oor tot die vrouevraagstuk. Hy vertel my van Jessika, ek hom van Liens...
HAAR GEBABBEL HET NOU REGTAG GEGRIL, HIERDIE DUITSER. Ek móét hier wegkom. Bepeins opsies. Ek kan 'n vars bier gaan kry. Of daar in die hondehuisie 'n splief rook saam met Danie-hulle. Of net Strand toe en dalk 'n draai by 7-Eleven maak om droëwors te koop. Nimmereindigende gepreek hou aan. Wat sê sy? O, ja, ja, Amerika's vreeslik. Ja, dankie vir die analise, so veel het ek nie geweet nie, ek het net daar grootgeword saam met al daai bullshit. Maar dankie vir jou ingeligte insigte van buitekant. Die oë word suwwer, die gees begin waai oor die Hottentots-Hollandse oorberge.
Dan nes 'n blits sonder geklap kom L. al swaai-swaai aangestap, gaan buite om in die oranje Kaapse lug haar rooi lokke te laat saggies beweeg in die seebries.
(Rooierige sonsproetjies agter wit linne, petale van blomme se reuk, die tafel(berg) is bedek, en die son begin water trek)
Ek weet nie of die afstand tussen ons die vinnigste of die stadigste te oortree was nie, maar deftig oorbrûend het ek hierdie Juliet bejeën, en buite in Strand se ope lug(kastele) het haar oë my skuins betrag en haar norratjie was déél van my lippe, om dit te soen was nes om smôrens op te staan, nes gebore te wees - gedoen sonder denke. Dis die verskil tussen weet-weet en kennisweet. Dis om staan-staan te verstaan.
(Die maan praat Afrikaans)
En naderhand loop als tot einde en toe sy begin vertrek, al wuiwende tot siens!, tot siens!, beduie ek spasties, oplaas 'n uitbraking, "Kom ons drink 'n wyntjie môre!" Ja, okay, so teen mirrag. Ek ontspan, uit(w)asem, sink met 'n versadigde glimlaggie in die seties in.
(Jy sal maar geprogrammeer word/ om jou eie land- en sielskappe te kan eerbiedig/ om jou eie plek in die wêreld te herken/
Maar dis soms nie te helder nie/ wolke teen jou oë wat skaduwees skep uit die berge/ maar daai berge is nie onbereikbaar nie/ bietjie deursien soms deurmekaar/ maar in die hand/
Hulle is die speelgrond vir die voëltjies/ wat jy gegooi het om jou liefde te gaan soek/
Sy's daar/ waggend binne beperkte kamertjies waarvoor net jy die sleutels het/ sy's daar/ draend aan jou hart met saggies woorde/ hulle sal jou touwysmak/ om deur die liefde te gaan swem/
Volg die lyne van die vlieënde voëls om jou berge/ hierdie kraglyne sal as uitwys en inwys/ en als fungeer ten einde dat jy jouself sal leer ken en kennis is goed so dankie/
En binne-binne jou gedagtes lê die webbe van jou lewe/ van, om jou/
En tussen hulle takkies osileer die blou duisternis wat jou opvul, optree/ bly maar)
Vanmirrag se saamstap - wat kan ek sê? Arms verwikkel, ek kon haar borsie voel vry(we) teen my armpie. En dan was ons by die café, snags, en ek kon verseker Ou Antjie van die heuwels se doolplek waarneem - sy't ons nydig beoog terwyl ons praat-praat het. Ons gesprekke is nie te onthoue nie, ek't net aan die opdoemende vertrek Oostenryk toe gepeins. Maar toe ons klaar was, toe ek haar vergesel het tot by haar groen bakkie het ek haar moes vang en ons siele het gesmelt in een oomblik, het heel Stellingbos ontplof as ons nukleêre lippe aanmekaargeheg het. Klokke het uit mekaar uitgeval, ek het gesterf.
Die aand begaan sy gang, George en ek raak vaker, en buitendien is ons besig om vaer al hoe vaer die omgegeede te ontwaar. Verplaas jou vanuit die arms van Dionisus in dié van Morfeus. Ons gaan, skud die hand (gesmash maar nie so opmerklik nie danksy die verdowende Warskouse vuurwater - dis eintlik lewenswater). Terug by die huis, sit die dvd in die komper. Jesse en Céline se verhaal word vorentoe onthaal. Ag, Lientjies...
Thursday, December 28, 2006
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment