Sunday, March 25, 2007


Pan Hrabie, Little Italy, Manhattan.

Monday, March 5, 2007

J. du P. Scholtz en Robert Hughes en Kunskritiek, -geskiedenis

Wanneer ek aan die kunskritiek dink, val die name Robert Hughes en J. du P. Scholtz by. Nie omdat hulle die twee beste kritici ter wêreld is (was) nie. Nee. Albei manne lewer interessante gevalle, deur hul nasionaliteite besien: Suid-Afrika met sy ouer kultuur, sy eerder sewentiende-eeuse mentaliteit met sy maniere, geloof, en al, en Australië, met sy geprononseerde neëntiende-eeuse wêreldaanskouing, sy "convict stain" wat hy wil afwerp. Hughes en Scholtz beliggaam hierdie twee geeste perfek: Scholtz se styl is altyd gemeet, gekultiveer, ongeneig tot bombastiese uitbarstings, Hughes s'n is die teenoorgestelde, vol vitrioel, ongelooflike sinswendinge, en 'n breë inslag van die hededaagse kultuur.

Die geskiedenis van die aankoop en uitstal van skilderye en standbeelde in albei lande gooi lig op die milieu waarbinne Scholtz en Hughes hul begin gekry het. Terwyl Australiese museums tot ca. 1950 onder 'n verskriklike wanbestuur gely het, het Suid-Afrikaanse filantrope allankal skilderye van die Vlaamse en Nederlandse meesters aangekoop. 'n Mens hoef net D. Bax se Hollandse en Vlaamse schilderkunst in Zuid-Afrika te lees om die omvang van die Suid-Afrikaanse versamelings te snap. Australië daarteenoor het slegs victoriaanse goed gehad, en dit wat daar was, was flou. Hulle hét die kans gehad om impressioniste aan te skaf toe hulle nog goedkoop was, maar die puritaanse museumsleiers het daarin versuim.

Al het Scholtz in 1923 sy eerste stappe gemaak, en het Hughes eers in 1959 begin, toon die twee nog gelykhede. Bevoorbeeld die powere Australiese kunsscène van die neëntienvyftigs was nés die Kaap s'n in die twintigs: d.w.s. bereid vir verandering. Teen hierdie agtergrond het Hughes sterk kunstenaars sien uitstal, met hulle rondgeswerf, en veral interviews met hulle gedoen. Waar Hughes se opvoeding onoorsienlik gemakeer het, was in die ouere Europese kuns. Dit was feitlik nie in Australië te sien nie. Scholtz, aan die ander kant, het baie geleenthede gehad om ou meesters te beloer.

Dis met 'n bietjie toevalligheid dat Scholtz hom met die beeldende kunste begin besighou het wanneer hy het. Dit was toentertyd nie net die klassiese modernisme se senit nie, maar in 1923, toe hy by die Nasionale Pers betrokke was, dat hy die "beroemde en gevreesde" D.C. Boonzaier, spotprenttekenaar en ondersteuner der skone kunste leer ken het. Deur sy verhouding met Boonzaier het hy kennis gemaak met kunskritikus Bernard Lewis en beeldhouer Moses Kottler. Namate sou sy vriendeskreis uitbrei en verskeie kunstenaars insluit - Enslin du Plessis, Jean Welz, Florence Zerffi en Irma Stern, die grafiese kunstenaar Katrine Harries, en minder intiem, Hendrik Pierneef, Erich Mayer, en Ruth Prowse. Gedurende die jare 1915-1935 praat mens van 'n skool van Suid-Afrikaanse Impressionisme. Dit mag wel die belangrikste epoch in Suid-Afrikaanse kuns gewees het, en Scholtz was daarby.

Scholtz se vier kunsboeke (Strat Caldecott, 1886-1929, D.C. Boonzaier en Pieter Wenning, verslag van 'n vriendskap, Moses Kottler: His Cape Years, en Katrine Harries, Life and Work is elk die gesaghebbenste op sy gebied - Caldecott het origens 'n gewilde besitting vir baie Africana-versamelaars geword. Daar reken jy sy tallose artikels vir Die Burger by, en wat deurskyn is die werk van 'n gees wat noukeurig en met baie liefde te werk gegaan het. Aangesien sy groot belang vir die aanpassing van westerse skildertegnieke op die Suid-Afrikaanse landskap, hoef dit ons nie te wonder nie dat Scholtz besluit het om sy eerste kunshistoriese studie oor Strat Caldecott te skryf nie. Die boek het in 1970 deur uitgewer A.A. Balkema verskyn, waarvan 65 gemarmelde, leergebonde kopieë deur Scholtz genommer en onderteken is. Dit is dié Scholtz-werk par excellence, nugter, eksak, droog, die laaste woord daarop.

Vir verdere lekkerlees, sien
Ballot, G. Muller. 1980. "J. du P. Scholtz as kunshistorikus." Standpunte 33(3): 16-24.
Giliomee, J.H. 1990. "Die kunsversameling van prof. J. du P. Scholtz." Tydskrif vir geesteswetenskappe 30: 46-53.

Scholtz se kunsmonografieë
1970. Strat Caldecott, 1886-1929. Balkema: Kaapstad.
1973. D.C. Boonzaier en Pieter Wenning: Verslag van 'n vriendskap. Tafelberg: Kaapstad.
1976. Moses Kottler: His Cape Years. Tafelberg: Kaapstad.
1978. Katrine Harries, Her Life and Work. Tafelberg: Kaapstad.
1979. Oor skilders en skrywers. Tafelberg: Kaapstad.

Die groot deel van die kunsartikels is in Die Burger uitgegee, wat 'n soort van homogenese groep uitmaak (sien onder), maar 'n paar het in ander publikasies verskyn:
1947 November 28. "D.C. Boonzaier: Beroemde Karikaturis en Merkwaardige Mens." Die Huisgenoot.
1959. "Strat Caldecott (1886-1929)." Ons Kuns I, uitgegee deur die tydskrif Lantern in medewerking met die S.A. Uitsaaikorporasie, Pretoria, 67 vlg.
1966. "Boonzaier, Daniël Cornelis." In: Standard Encyclopædia of Southern Africa, Nasou: Capetown: 422-423.
1973. "By die honderste verjaarsdag van Pieter Wenning." Tydskrif vir geesteswetenskappe 13(4): 349-358.

ARTIKELS VIR DIE BURGER
1971 December 13. "Bonnard se rol in vandag se kuns."
1972 October 18. "Die verbondenheid van D.C. Boonzaier."
1973 May 4. "Stern-argief nou in biblioteek."
1973 May 7. "Stern-skatte na jare gevind."
1973 June 15. "Stukke getuienis oor ons grootste digter."
1973 September 10. "Voortrekkerhuis: Wenning se skilderye."
1973 December 6. "Van Wyk Louw: Skugter, maar nie geheimsinnig."
1973 December 31. "Le Vaillant en sy akwarelle."
1974 March 15. "Historiese huis en Pierneef."
1974 April 26. ",Nuwe' Caldecott opgespoor."
1974 August 12. "Skildery van Wenning geïdentifiseer."
1975 October 23. "'n Skildery van Wenning."
1976 January 8. "Verhaal van beeld in Kaapstad."
1976 March 10. "Kuns-speurwerk - en 'n verrassing."
1977 January 24. "'n ,Nuwe' Kottler."
1977 May 2. "Vroeë Caldecott-werk ontdek."
1977 August 15. "Verlore skilderye van Caldecott ontdek."
1978 January 18. "Noor se spotprente behou trefkrag."
1978 February 9. "Werke van Kottler 'ontdek'."
1978 August 9. "Identifikasie van 'n skildery."
1978 October 2. "Hy was 'n opregte mens."
1979 September 28. "Probleme met nagelate kunswerke."
1979 December 12. "Vyf vroue en die Nuwe Groep."
1980 March 19. "Katrine Harries se nagelate werk."
1981 March 10. "Onderskatte en half vergete skilder."
1981 April 9. "Malraux se groot slag."
1981 June 8. "'Onbekende' werk van Boonzaier."
1981 September 23. "SA Kunswerke wat verdwyn."
1982 February 25. "Ou Kaap herleef in seldsame boeke."
1982 February 26. "Geskiedenis van Kaapstad in ou kalenders."
1982 March 8. "'n Groot skilder in 'n klein land."
1982 June 22. "Ou boekwinkels en Kaapse kultuur."
1982 July 7. "Besonderse kuns van Kay."
1982 July 28. "Só het 'n boek ontstaan."

Sunday, March 4, 2007


Dziesika agter Piotr se voormalige woongebou in Prospect Park, Mpls.

Friday, February 23, 2007

Osmund 'Ole' Johnson, vroeër Osmund Jansen Tvedt, Burgeroorlogsousoldaat

Hy was op 23 Februarie 1827 gebore in Tvedt, Årdal, Rogaland, Koninkryk Noorweë, en het op 1 Desember 1906 heengegaan in Fillmore County, Minnesota. Hy was my groot-groot-grootoom.

Hy't by die Union Army vir drie jaar ingeskryf as gewone soldaat in Company K van die 15th Regiment van die Wisconsin Infantry Volunteers, die sogenaamde "Scandinavian Regiment", omdat dit grootendeels Noorweërs en Swede was, op 11 Februarie 1862. Destyds het hy geboer op 'n plaas in Fillmore County, in die op- en afdraande van die suid-oostelike hoek van Minnesota, die sogenaamde "driftless area" wat ek al vroeër genoem het. Hy was 34 jaar oud en getroud.

Weerman Johnson was op 31 Desember 1862 deur die Confederates gevang by die koue, lang, bloedige slag van Murfreesboro, Tennessee. Hy was toe tronk toe in Richmond, Virginia, maar was pas later vrygelaat in 'n gevangeniswisseling. Nadat hy gered was, het hy hom weer by die 15th aangesluit.

By die tweede-bloedigste slag van die die oorlog - Chickamauga, Georgia - was hy weer deur die vyand gevang. Dit was die middag van 19 September 1863, en die 15th was besig om ter midde van 'n woud naby Viniard Farms te skop, skiet en sneuwel. Toe daag die Federals op en begin aan hulle eie, die nimlike 15th, los te trek. Die 15th se Lieutenant Colonel Ole C. Johnson (sover ek weet, nie verwant nie) het sy manne beveel om hul te verstrooi sodat hul nie deur die "vriendelike vuur" sou omkom nie. Weerman Johnson was glo aan die kop getref, waar hy dan in gevangenskap deur die Confederates weggeneem is.

Daar's maar 'n ander versie in Ager's 1916 geskiedenis van die 15th Wisconsin:
"Osmund was taken prisoner at Chickamauga. The regiment came under double attack, because an advancing Northern division, not knowing that the Fifteenth Wisconsin Regiment stood in the line of fire, began to fire upon it in the belief that they were enemy troops; and the regiment was shattered. So Osmund went in the wrong direction and came to a breastwork, which he could not cross. He ran along side of it for a while. When the Southern troops came to it he threw himself down on the ground and pretended that he was dead, having daubed himself in the face with blood. In the meantime it was clear that he was only pretending to be dead, and they took him prisoner."

Na 'n paar weke, het die Confederate regering die Federal regering laat weet Weerman Johnson was nou die South se oorlogsgevangene. Op 12 Desember 1863 was hy toe per trein na Danville, Virginia gestuur. In Februarie 1864 was hy oorgeplaas na die infame Andersonville Prison Camp, wat, as jy ooit prentjies daarvan gesien het, had sy weerga in Pole in die jare 1940-1945, of in Suid-Afrika in 1899-1902. Daar was dikwels niks kos nie, en indien wel, was dit vleis met wurms in. Hy moes sy hoedjie gebruik as sopkommetjie, en toe dit vol gate was, moes hy sy skoen gebruik. Dit was 'n ellende. Maar op een of ander wyse het hy oorleef.


Toe hy op 29 April 1865 aan die Federals oorhandig was, was hy in 'n uiters treurige toestand, sy liggaam deur skeurbuik te gronde gerig. Maar al was hy vrygelaat, moes hy nog 'n rukkie afwag totdat hy tuis mog kom. Hy moes eers deur St. Louis, dan Madison, Wisconsin gaan, en uiteindelik het hy weer by sy vrou opgepitsj, waar hy tot sy verbasing ontdek het, sy vrou dag hy was dood en was van plan om weer te trou. Dit moes 'n rowwe rukkie gewees het.

Ons vergeet soms hoe anders mense destyds gedink het, en dit laat jou nogals skrik as jy dink aan die moontlikheid om te gaan veg, dat talle, talle mans alles agtergelaat het om by die twee weermagte aan te sluit. Osmund was een van daardie manne, want jy moet mos jou koerasie en geloof in Amerika bewys deur te gaan sneuwel. Haikôna!

Maar destyds was dit anders. Die idee van die kryger, teenoorgesteld van die soldaat, die man wat gedwing is om vir sy regering te veg, was 'n sterk dryfkrag vir baie mans in die middel neëntiende eeu. Dit was 'n direkte voortsetting vanuit die Middeleeue, toe jy sosiaal hoër kon gaan net deur oorlog of die kerk. Ek meen dat hierdie krygermentaliteit geduur het tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Ek weet gladnie wat hierdie mans wat na Irak gaan, dink nie. Dalk soek hulle net spanning.

Thursday, February 22, 2007


Binnewêreld in Graz, Oostenryk

Sunday, February 4, 2007

Die ontvouing van die Afrikaanse woordeskat

Neëntiende-eeuse Afrikaans-Hollands, oftewel Afrikaans, verteenwoordig 'n fasinerende stadium van die ontwikkeling van dié se woordeskat. Volgende woorde is almal deur my opgeteken in die een of ander ou Kaapse stukkie verbrokkelende Hollands. Sommige van hulle word nog vandag gebruik, sommige nie. Indien geagte Leser enige iets omtrent hulle mee te deel het, sal ek de dankie in wees.

aanpresenteer ‘aanbied’
aks ‘agste; ietwat’ ‘haaks’
aksionawel 'strafbaar'
betjols, betjorries, betjoings 'uit orde, beteuterd'
beginsel 'begin'
dalkies/dalkers 'dalk'
dè/dê 'daar's hy!'
eider/eimand/eits variante wat glo aangetref kan word
ens 'hou van'
fieterjasies 'tierlantyntjies'
flus(sies) 'netnou'
gevreet 'gesig'
genieps(ig) 'afknouerig'
haar 'regs'
hul soos in "hul is..."
jilletjie 'grappie'
kaduks 'kapot'
konseus/konsuis teenoor kwansuis
liefêr 'geneig wees'
maskie 'almaskie'
moveer ‘lastig val, pla’
nôi teenoor nooi
norring ‘enorm’
oes ‘sleg’
olik ‘dom; siek’
poena 'outydse geweer', 'bok sonder horings'
poespas 'in die war'
rabbedoe 'wildebras'
rapat 'vinnig'
serp 'kledingstuk'
strawasie 'afmattende werk'
tjalie 'sjaal'
twak 'tabak'
verfoes 'verniel'
vergange 'onlangs'
werskaf 'verrig'

J. du P. Scholtz was een van die gesaghebbendste voorstaanders van ’n historiese woordeboek van Afrikaans, dog laat hy hom só uit: “Die tyd het nog nie gekom dat ons ’n woordeboek van Afrikaanse op historiese grondslag kan aanpak nie. Daar sal nog enorm baie materiaal versamel en voorstudies geskrywe moet word” (Afrikaans-Hollands in die Agtiende Eeu, 1972:107). Scholtz het gelyk waar hy sê dat nog enorm baie materiaal en studies versamel moet word - ingeval ons ’n eg omvattende historiese woordeboek sou wou skryf, vermoedelik iets soos die Woordenboek der Nederlandse Taal. Dit lyk my nie baie realisties nie. Daar bestaan nòg die kapitaal nòg die belangstelling om so ’n reusagtige projek in die lewe te roep. Dit sou ’n geweldige jammerte wees as dit ons enigste keuse was. Gelukkig is dit nie. Daar is maar ’n ander gestalt wat so ’n woordeboek darem kon aanneem, naamlik as ons net gaan kyk vir die Dictionnaire Historique du Français Québécois, 1998, St. Pierre, Les Presses de l’Université Laval. Heel omvattend van die hele Québécoise woordvoorraad is hy gladnie, dog hy is ’n uiters deeglike studie van die ruim duisende woorde wat daarin wel opgeneem is. Esteties besien is die bladplan/ontwerp baie tevredestellend, wat dan te sê van die noukeurige studies van amper al die woorde.

Ek sit hier 'n ietsie by, ’n nog onuitgegewe woordstudie wat m.i. korrek is. Dis gebaseer op die look van die Québécoise woordeboek. Caveat - Die uitspraak van aanpresenteer is verkeerd, omdat ek nie oor 'n sjwa vir my macintosh beskik nie, en dus moes ek die finale sillabe as [i] weergee en nie [i + sjwa] nie.

Saturday, February 3, 2007



Kaaps-Hollands bemuurde straatjie in die Paarl.

Sunday, January 28, 2007

Die wynbou in Minnesota

Dink aan mans in togas en jy dink aan ... regters? Nee, The Knights of the Vine, 'n Kaliforniaanse skepsel wat 'n nogals ongelooflike voortsetting was van 'n ou Franse orde. In 1973 het 'n klomp Minnesotaners besluit om dit hier voort te plant. Buite die aantrek van swart gewaad, het dit om wyn en geselligheid gegaan. Kaliforniaanse wyne vanuit die vroeë sewentigs was die middelstuk waarom feeste gebou is. My pa het bv. Gordon Schutte, ou-eienaar van die 510, gereeld opgebel met, sê nou maar 'n '72 Stag's Leap Cabernet Sauvignon, waarom Schutte dan hele aandete sou bou - hy kon sommer instinktief iets saamkry. Hulle het die Minneapolis Club (Fitzgerald se Winter Dreams) eenkeer die jaar gehuur en daar nuwe lede tot ridder geslaan, 'n aangeleentheid wat natuurlik goed geweek is met wyne wat deesdae in die duisends sou kos.

David Bailly, Minneapolitaanse prokureur, lid van die Knights of the Vine, wie se liefde vir vinifera se sap hom in die wynbou gestoot het, het in 1973 tien morge gekoop en daar foch-druiwe aangeplant. Alexis Bailly Vineyard se eerste wyn is in '77 op die mark gesit met die naam Maréchal Foch, genaamd na 'n beroemde Franse generaal van die Eerste Wêreldoorlog. Met meneer Bailly se heengaan het sy dogter, Nan, die plaas opgeneem en met die wynmaak voortgegaan.

Franse hibride soos foch, millot, en seyval was die eerstes wat Bailly geplant het, en hulle het wel goeie wyne opgelewer - ingeval hul oeste bekwaam genoeg was. Probleem is, hulle was bedoel vir eerder mildere klimaat van noordelike Frankryk, nie vir die ekstreme van Minnesota nie, en hulle moet bedek word, anders vries hul. Ook is hul weerstaan teen inheemse skimmels maar slegterig. Tog indien die druiwe gedy, kan jy 'n eg rosé uit foch maak, en die ander twee is ook nie bra sleg nie. Des te triester is dat vanjaar se foch-oes by Alexis Bailly Vineyards deur phylloxera geskadig was, en baie stokke het doodgegaan, terwyl ander Franse hibride gesterf het vanweë die lastige ophang in lente en neersit in herfs. Net die allerbeste van die oorblywendes was ingeoes en gepers, waaruit Voygeur gemaak is.


Die Universiteit van Minnesota se enoloë het hul eie afdeling in 1904 gestig, maar dit was nie tot die tagtigs nie dat hulle staatlike befondsing gekry het. Dit was hul doelwit om goeie wyndruiwe vir die Upper Midwest te genereer deur kruise met ou-wêreldse vinifera en inheemse riparia. Frontenac is hul gewildste, meesal omdat dit ook die (relatief) oudste is. Ek het ongelooflik genoeg 'n boereseun in die Vrystaat leer ken wat 'n somer in Minnesota deurgebring het by daai programma ... Franshoek lyk my so veel mooier.

Frontenac is in baie plekke in New England en die Midwest aangeplant, en die opgewondenheid neem toe. Ons sal seker twintig, dertig jaar moet wynmaak voor ons kan sê hoe jy hierdie druiwe moet gebruik. Tradisies in Frankryk en Italië het deur jaarhonderde gegroei, en ons kan nie 'n organiese proses sonder meer aanwakker nie. Ons kry wel baie goedgemaakte wyne, maar danksy die donker, ryk Minnesotaanse grond sal ons druiwe nooit moet sukkel nie, wat hulle eintlik moet as jy uitstekende wyn daaruit wil maak. Tog doen baie wynboere in Minnesota en Wisconsin aansoek om die "driftless area" as nasionaal-erkende wynboukontrei te verklaar, want daar is die bodem sanderig en vol af- en opdraande. Desniettemin kan jy 'n heel goeie witwyn in Bailly se Country White kry, met note van kalkklip en appels. Dis net 'n kwessie van tyd en ervaring, en hopelik sal ons eendag 'n wyn so goed soos 'n Constantia maak.

Wednesday, January 24, 2007



Blik na buite in Loring Park, Minneapolis.

Sunday, January 21, 2007

Nieks kieks! - Vanuit Plato se grot

My huismaat raak dikwels opgewonde oor dinge wat ek soms met agterdog bejeën - conspiracy theories meesal, en hy praat dan uitvoerig daaroor terwyl ons in die kombuis sit en koffie drink. Ek stel my dan dikwelser tot die taak om hom tot 'n taamlike bedaring te bring, om aan historiese gegewens aan te roep en altyd 'n sekere weloorwoë perspektief te probeer behou. Nie omdat ek nie in die moontlikheid van komplotte glo nie, maar omdat ek bewyse wil sien, want bespieëling is mos net dat, 'n waarneming wat op sigself ontwikkel tot verbeelding. Spekulasie is die broeiplek van nuwe idees, en sonder hom sou ons sommerso begin verstar, maar om produktief voort te gaan moet dit gepaard gaan met intellektuele eerlikheid.

Dus toe hy vir my sy kopie van Morris Berman se The Twilight of American Culture leen, het my argwaan toegeneem as ek dit begin lees het. Uitlatings soos "factors such as the widening gap between rich and poor; the growing climate of apathy, cynicism, and corruption; and the dramatic drop in levels of literacy and overall intellectual awareness" laat my nekhare rys. Natuurlik nie omdat ek glo Amerika baai in 'n soort van Verligting op die oomblik nie. Maar eerlik besien, hoe kan jy sukke bewerings koester? "The widening gap between rich and poor" - wyer as toe in die Middeleeue waar die rykes letterlik neghe-en-neëntig persent van die weelde gehad het, of tydens die "Robber Barons" van die laat neëntiende eeu toe vyfjarige kinders in fabrieke gesloof het? Asseblief tog. Die toenemende klimaat van apatie, sinisisme, en korrupsie is nie aan die hede eie nie, nòg is dit aan Amerika eie nie. 'n Mens hoef net die 1100-jarige geskiedenis van Bisantium te bestudeer om te sien hoe 'n regering korrup maar volhardend kan voortlewe. Dramatiese afsakkings in geletterdheid en algemene intellektuele bewussyn is moeilik om te meet. As 'n mens van neergang wil praat, voorveronderstel dit dat daar 'n hoëre posisie was waarvandaan ons aftakel, en nes by sy ander bogenoemde bewerings, wanneer was ons beter geletterd en intellektueel bewuster? Toe slegs monnike kon lees en almal gedog het die wêreld is 'n koek met drie lae wat bo-op 'n tortel sit?

Tegelykertyd stem ek heeltemal met hom saam. Elke dag sien ek raak hoe Amerikaanse tieners min nuuskierigheid vir die "ander" toon, hoeveel hulle vir idiotiese tegniese gereedskappe omgee, hoe hulle nog idiotieser tv-shows met mekaar en met groot psigo-spirituele belegging bespreek. Dis my nuwe spel om te tel hoeveel studente onmiddelik ná les òf hul selfone aansit om boodskappe te check (ek terg hulle altyd met vrae soos, "What are you, a KGB sleeper agent? D'ja get your wake-up call?") òf hul iPods aan te sit om die daelikse lewe rondom hulle uit te gons. Ja, die land van Nimmendal en Fôkôl heet jou welkom!


Op 'n egter positiewe noot, is daar baie om bly oor te wees. Tydskrifte soos Harper's, Atlantic Monthly, The New Yorker, en koerante soos The New York Times en The Washington Post is wat kwaliteit aanbetref uitstekend. Die versamelings in museums soos The Getty, The Art Institute of Chicago, The Metropolitan Museum of Art, The Philadelphia Museum of Art, The Museum of Modern Art, selfs The Minneapolis Institute of Arts is geweldig. Die groot hoeveelheid musikante, kunstenaars, wetenskaplikes en skrywers is sprekende bewys van die skeppingskrag van Amerika. Tog wil ek padgee.

Waarnatoe? Waar in die Wes is daar 'n heenkome van hierdie barbarisme? Is daar enige Australiërs, Suid-Afrikaners, Nieu-Seelanders of Britte wat nie dink so 'n analise geld vir húl maatskappye nie? Of moet ons in 'n Rousseauiaanse swerm ons eie Tahitis iewers in die oerwoud gaan vind?

Die enigste keuse vir mense wat al hierdie probleme (kan) deurgrond, is die "new monasticism" wat Berman ondersteun, dat mense alternatiewe leefwyses kan kweek onder die sambreel van die gaande mainstream, dat ons so te sê die kerse nie sal laat doodgemaak word nie, nes daai monnike in die donker dae van die pos-Romeinse orde. Ons is diegenes wat ons kinders sal opvoed met besoeke aan museums, met die aanleer van ander tale, met tuinwerk waar jy leer om te boer en kompos, met die boekleer, met die maak van musiek, met die kook van heilsame kos, met eksperimenteer in die wetenskaplike metode, met die waarneem van die natuur, met die oefening en opbou van hul liggame, en veral met 'n toon op die strewe na die waarheid, dat ons ons stellings onemosioneel kan verander wanneer nuwe ontdekkings, gegewens, en idees vorendag kom.

Hopelik sal ons ook 'n sekere elitisme begin kultiveer, 'n elitisme gebaseer op die vermyding van dit wat net vulgêr, onnosel, kortsigtig, leeg, en geesteloos is. Amerikaners is besonders gekant teen elitisme, omat al ons voorouers net bywoners en peasants was. Maar dis ook twak, want ons verafgod heeltyd celebrities, atlete, besigheidsmans, en politici. Robert Hughes se karakterisering van Australiërs in hierdie opsig is behulpsaam: "Australians have no difficulty with elitism in sports. On the contrary, it fuels their imaginations, it blots up their leisure time, and they prize it as their chief claim to national distinction, especially since their political and economic importance is so unfairly slight in most of the world's eyes. ... Competitive sports is not just an example, but the very essence, of elitist activity: by its nature, a competition can yield only one winner as against a number of losers. But if the harmless culture elitist is not a sport elitist, and unwisely confesses that he doesn't care who wins what at any Olympic Games, then woe betide him." Vir Australiërs, mense wat 'n ware voorbeeld van ballingskap, dwang, ontworteling, van afvoer in kettings is, is die omarming van elitisme besonders verwarrend. Maar net omdat ons konsep van wat elitisme is, stukkend is.

Wat my regtig ontstel, is dat mense nie bodder om hulselwers op te voed nie. Ons universiteite bons met 'n swetterjoel wat nie behoorlik Éngels kan skryf nie, wat dan te sê van die opstel van 'n essay. Dis pynlik duidelik vir my dat die gespuis wat so neëntig persent van ons land uitmaak, skokkend oningelig en simpel is. Kyk net wat gebeur as jy hierdie mense toelaat om by verkiesings te stem! Of probeer om in 'n alledaagse gesprek 'n mitologiese or literêre aanwysing te maak, of 'n vreemde woord (Frans, Latyns) te gebruik, of gewoon die geselsie op 'n logiese pad te hou, sien jy dadelik die idiosie. Dog dít is ook twakkerig, want mense was altyd so, dis gewoon egotisties om te dink dat jou tydperk op die aardbol spesiaal is. Dis presies dieselfde met globale verwarming, mense veronderstel 'n massiewe ramp, maar hulle vergeet die aarde het heel lang tropiese periode deurgegaan voor ons hier was. En so aan, en so aan.

Dus wanneer ek aan my bydrae dink, dink ek veral aan al my studente by die University of Minnesota en Macalester College. Ek koester die dalk dwase hoop dat ek 'n effek op hierdie mensies kan uitoefen. Nie om hul breine met links-gesinde dogma op te vul nie, of my tot taak te stel om ál die opvoeding wat hulle gemis het, reg te stel nie, maar om 'n oriënteringspunt aan te bied, selfs as hulle dit net subliminaal besef. Miskien sal een van daardie studente eendag in 2017 'n konneksie maak en daardeur gegalvaniseer voel om ook hul eie bydrae te probeer lewer, om hul kerse te weer teen die stroom van biljoene en biljoene van Kreties en Pleties wat onwetend die tuine van kultuur, van skoonheid, van skepping vertrap.

Wednesday, January 17, 2007



Bolandse wingerd met bome en skaduwees.

Tuesday, January 16, 2007

Baie mense het crack, ek het Robert Hughes se prosa

Oor elitisme (ek kan net hartlik saamstem):
"For of course I am completely an elitist, in the cultural but emphatically not the social sense. I prefer the good to the bad, the articulate to the mumbling, the esthetically developed to the merely primitive, and full to partial consciousness. I love the spectacle of skill, whether it's an expert gardener at work, or a good carpenter chopping dovetails, or someone tying a Bimini hitch that won't slip. I don't think stupid or ill-read people are as good to be with as wise and fully literate ones. I would rather watch a great tennis player than a mediocre one, unless the latter is a friend or a relative. Consequently, most of the human race doesn't matter much to me, outside the normal and necessary frame of courtesy and the obligation to respect human rights. I see no reason to squirm around apologizing for this. ... I hate poplulist kitch, no matter how much the demos loves it. To me, it is a form of manufactured tyrrany." - All The Things I Didn't Learn, bl. 31.

Oor Norman Lindsay, Australiese kunstenaar en algemene swaap:
"Except in isolated cases, Lindsay's imagery is too naïve to bear comparison with the mannered but very real sense of romantic evil which the pale horrid Liliths drawn by his nearest English equivalent, Beardsley, exhale. Lindsay's melon-breasted, ham-thighed Playmates are wholesome and dated. Their eroticism is depersonalized and cow-like; the very embodiments of adolescent sexual fantasy as it was in the days before teenagers were allowed to go to bed together, they smirk and pout and wiggle their elephantine buttocks but never become human; they are no more than the furniture of an escapist, a provincial rococo day-dream. Lindsay lived in a pantomime world of cavaliers, troubadours, Greek gods, courtiers, imps, panthers and magi; his art was a costume party." - The Art of Australia, bl. 84.

Oor die beeldspraak i.v.m. die Hemel (my mede-Amerikaners in The South sal nooit verstaan nie):
"Our modern ideas of Heaven and Hell are diluted. Heaven is vaguely thought of as a stretch of blue sky, with pearly gates like those in a hairdresser's movie ad, harps, clouds, and angels in long white caftans flapping their technicolour wings in time with the strains of Mario Lanza wafted faintly through some celestial Muzak system. It is all as clean as the inside of a new ice-box and to anyone with a trace of blood in his veins it a prospect of appalling boredom, like being confined forever in Disneyland with nobody to talk to but Norman Vincent Peale and the dithering secretary of the local Methodist Ladies Bridge Auxiliary." - Heaven and Hell in Western Art, bl. 7.

Oor gatpyn hedendaagse kunstenaars:
"For nearly a quarter of a century, late-modernist art teaching (especially in America) has increasingly succumbed to the fiction that the values of the so-called academy - meaning, in essence, the transmission of disciplined skills based on drawing from the live model and the natural motif - were hostile to 'creativity'. This fiction enabled Americans to ignore the inconvenient fact that virtually all artists who created and extended the modernist enterprise between 1890 and 1950, Beckmann no less than Picasso, Miró and de Kooning as well as Degas and Matisse, were formed by the atelier system and could no more have done without the particular skills it inculcated than an aircraft can fly without an airstrip. The philosophical beauty of Mondrian's squares and grids begins with the empirical beauty of his apple trees. Whereas thanks to America's tedious obsession with the therapeutic, its art schools in the 1960s and 1970s tended to become crèches, whose aim was less to transmit the difficult skills of painting and sculpture than to produce 'fulfilled' personalities. At this no one could fail. Besides, it was easier on the teachers if they left their students to do their own thing." Nothing If Not Critical, intro.

Monday, January 15, 2007



Hondjie aan't verbydraf.

Sunday, January 14, 2007

J. du P. Scholtz as Filoloog


Johannes du Plessis Scholtz is die vernaamste Suid-Afrikaanse filoloog wat ooit geleef het. Sy curriculum vitae is uitstekend, soos dié van baie ander briljante denkers. (Dink net aan N.S. Trubetskoi, wie begin publiseer het toe hy op die rype ouderdom van vyftien was, en wie naderhand die hele koers van die studie van tale in die twintigste eeu opnuut bepaal het.) Hy het eers studeer by die pas herbenaamde Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1920 die M.A.-graad behaal het met 'n tesis oor die taal van die Lambertbaaise vissers. Hy het 'n Ph.D. by die Gemeentelijke Universiteit in 1927 behaal en in 1938 vir die D.Litt. gepromoveer onder C.G.N. de Vooys met Die Afrikaner en Sy Taal, 1806-1875. Dié boek is toe met die eerste Hertzog-Prys vir wetenskaplike prosa bekroon. In 1934 het hy 'n lekoraat in die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit Kaapstad aanvaar, waar hy in 1950 Hofmeyr-professor en hoof van die departement geword het. Hy het toe in 1965 afgetree om sy tyd aan ander vraagstukke te wy, met name die kuns. Daarop het vier monografieë oor Suid-Afrikaanse kunstenaars gevolg sowel as drie nog uiters belangrike studies oor Afrikaans, die produkte van sowat sewentig jaar se ondersoek. Dis amper iets vanselfsprekends dat hy vereer is met feitlik die grooste Festschrift wat ooit in Suid-Afrika aangepresenteer is, Dietse Studies (sien onder). Die vernaamste wetenskaplikes het daar eersterangse bydraes toegelewer, daar steek niks triviaals in nie.

Lees 'n mens die talle bladsye van getranskripeerde velgwagtersbriewe of klaagskrifte in die Van Oordt-versameling in die Gericke Biblioteek in Stellenbosch, die nimlike briewe wat Scholtz verteer het, dan verstaan jy dadelik die meesterswerk wat Afrikaans-Hollands in die Agtiende Eeu is. Die gevolgtrekkings wat hy gemaak het, die woorde wat hy in sy leksikologiese studie opgeneem het, die klankverskynsels wat hy in die studie oor die woordbou behandel, dit alles is vanselfsprekend as jy dieselfde goed begin deurboor. Dit geld vir sy ander werke ook. Dit berus daarin dat J. du P. Scholtz die eerste taalgeleerde in Suid-Afrika was wat intensiewe studies van Trubetskoi se strukturalisme en Bloomfield se beskrywende taalkunde gedoen het. Hy was op die vanguard in Suid-Afrika.

Maar terwyl Scholtz sulke baanbrekerswerk verrig het, was daar natuurlik ander taalwetenskaplikes destyds doenig. J.L.M. Franken was voorste onder hulle. Sy taalhistoriese studies het Scholtz die meeste geïnteresseer. Dan het jy J.J. le Roux en sy beroemde Afrikaanse Sintaksis, P.J. du Toit en sy Afrikaansche Studies, D.B. Bosman met Afrikaans en Maleis-Portugees, Oor die ontstaan van Afrikaans, S.P.E. Boshoff en G.S. Nienaber het begin om gereeld te publiseer, en ander, kleinere stemme was daar ook - A.C. Bouman het belangrike sintaktiese studies geskryf, terwyl Abel Coetzee volkskundige gegewens aan die lig gebring het. Die oorgroot gedeelte van hierdie professore het hul op die netelige vrae omtrent die ontstaan van Afrikaans toegewy. Baie geleerdes was beïndruk met die studies van klassisis en taalgeleerde D.C. Hesseling. 'n Paar het hom bestry, soos D.B. Bosman en S.P.E. Boshoff. Maar uiteindelik het hulle hul laat bepaal deur dié vrae. Scholtz daarenteen het gladnie met Hesseling saamgestem nie, maar hy was nie so verkramp dat hy nie 'n luminêre gees kon herken nie. Oor Hesseling het hy eens geskryf: "His name will always be honoured in South Africa, because he was the first linguistic scholar to make a sustained scientific study of the 'origin' of Afrikaans" (Encyclopædia of Southern Africa, onder Dirk Christiaan Hesseling). Die hele kwessie het Scholtz egter nie geïnteresseer nie, hy het geglo dis beter om 'n massa gegewens hetsy in geskrewe vorm, hetsy van eie opmerkings, noukeurig deur te werk en dáárvan gevolgtrekkings te begin maak. In hierdie opsig was hy eenspaaierig.



Dis moeilik om dit toe te gee, maar daar's iets provinsiaals oor al die lofsange wat op sy onthalwe gesing is. Scholtz was geen genie nie. Hy was gewoonweg 'n filoloog in die Nederlandse of Duitse tradisie, 'n belese kultuurmens. Boonal was hy 'n dénkende mens wat erg belang gestel het in die waarheid. Dit het beteken dat hy álle gegewens moes vind om tot 'n korrekte oordeel te kom. In ander woorde, hy't gedoen wat elke goeie prokureur doen: versamel alles wat te vinde is en bewerk dit. Dis al. Dis geen slegpratery nie, eerder 'n nugtere berekening, iets wat Scholtz sou gesteun het.

Maar op die ou end kan Johannes du Plessis Scholtz nie ontwortel word nie. Hy is deel van die kulturele landskap waarvandaan hy kom - hy het opsetlik oor Suid-Afrikaanse kunstenaars en oor Afrikaans geskryf, blykbaar om verdienstelik tot die Suid-Afrikaanse beskawing by te dra. In só 'n konteks moet hy dan gesien word, en is derhalwe die beskaafde mens wat almal gelof het, die vernaamste van Suid-Afrika se filoloë.


Kalkoen hardloop in Brisbane, Australië.

Monday, January 8, 2007

"The Body Politic" by die Walker Art Center

Die Walker is, soos ons altyd herinner word, een van die belangrikste museums in Amerika. Toe die nuwe Herzog und De Meuron addisie aangebou en geopen is, was die openingsparty 'n sukses - toe ekself daarby so rondgedwaal het, het ek voor 'n Rothko gestop en naas 'n klein dwergie gestaan, toe besef ek dis Björk! Wel, dit sê baie oor die Walker se cachet.

Maar die Walker stal so baie slegte, minderwaardige kuns uit, dat ek amper nooit aanleiding kry nie om daar besoek te gaan aflê. Nés met daai Thomas Hirschhorn Arschloch af Switserland af. Die ou het feitlik die inhoud van sy kloset op die vloer gegooi. En ons is veronderstel om dit te waardeer? Jy móét! Sodra jy daardie ruimtes van die Walker betree, besef jy dadelik jy is 'n zero. Die argtektuur is so fascisties, so outoritêr, jy word heeltyd herinner dat jy te simpel is om hierdie ground-breaking bullshit te deurgrond.

Soos by amper elke kontemporêre kunsuitstalling, het die plakkate wat by "The Body Politic" gehoort het, gelyk asof hulle deur 'n viertienjarige opgestel is. Die teoretiese raamwerk waarbinne dit geplaas is, was soos altyd volop met winderige verklarings. Soos bevoorbeeld: "Images of the human body reveal a great deal about the cultures that produce them." As ek só 'n bewering in Kenneth Clark se The Nude gelees het, sou ek geweet het, daar kom nou-nou 'n indieping in die kwessie in. Nie die geval met die Walker nie - hulle wil net vrae stél, 'n besprekinkie aanstig. Wel, dis altyd maklik om te vra en 'n diskussie te hê, maar dis cocktail party nonsens. Dis egter veel moeiliker om tot 'n oorwoë oordeel te kom en dit te probeer verduidelik. Quelle horreur! Nee, enige iets wat na 'n inkrimping smaak, moet afgeweer word. Dus laat ons sommer in die bos van onderlinge warm fuzzies eindeloos ronddwaal.



Van die talle ekspressionistiese litografieë wat ek bewonder het, kan ek eerlik sê ek het niks vanaf die Duitse of Oostenrykse kunsskatte oor hul beskawings geleer nie, buiten dat Duitsers en Oostenrykers te veel angs het. Maar dis bog. Die prente van Max Beckmann, Egon Schiele, Ernst Ludwig Kirchner, Max Pechstein, en Otto Dix was almal geweldige uitdrukkings van primêre form, van die eerste moment van persepsie. Des te indrukwekkender is dat al die prente vanuit òf private versamelings in die Minneapolis-omgewing, òf vanuit die Weisman Art Museum, Minneapolis Institute of Arts, of Walker Art Center se besit gekom het.

Twee besonders interessante kunstenaars is Isabel Bishop en Henry Darger. Bishop se sin van skaduwee, haar verstand van hoe liggame buig, sak, of draai is meesterlik. Haar klein genrestukke van mense op straat was klein kykies in die vroeë 1900s, 'n tyd toe Amerika nog steeds trots kon voortbeur. Henry Darger was in 1892 gebore, en het die oorgroot gedeelte van sy lewe in Chicago deurgebring, waar hy as 'n deurwagter gewerk het, en waar hy al sy vrytyd gewy het op sy kinderboekie oor aliens en kinders en ander snaakse goed. Darger was geestelik vertraag, maar nie soseer dat hy nie 'n job kon hê nie. Dit het tot gevolg gehad dat hy nie belemmer was met tradisionele opvoeding of 'n sin dat hy dalk 'n waansinnige projek onderneem nie. Net 'n klein deel van die groot krul wat hy geteken het was daar ter uitstalling. Dit laat jou bietjie nydig vir die waansinniges raak - hoekom mag hulle sukke visioene hê en nie ekke nie?

Op die ou end het ek en Bell-Pakis besluit, nee, dis 'n goeie sjou en kom ons gaan drink 'n biertjie by die King & I.

Saturday, January 6, 2007

The bicycle is the only invention from the Industrial Revolution that ennobles instead of enslaves

In From Dawn to Decadence skryf Jacques Barzun: "To the modern lover of books, the product of the press is an object that arouses deep feelings, and looking at Dürer's charcoal drawing of hands holding a book, one likes to think the artist felt the same attachment. The book, like the bicycle, is a perfect form." (61).



Die herhaling van driehoeke, die ewewigmaking van die twee wiele, die formele ondersteuning deur sirkels in die chainwheels, die cassette, en die dropbars is alles, nes Barzun sê, perfeksie. Nes haaie. Dis 'n reinheid van forms, 'n eenvoudigheid van ontwerp, iets wat die tradisionele fiets onderskei van die nuwere suspensionfietse en monocoque carbon fiber ondiere.

Die bogewysde fiets is 'n Marinoni. Vir diegenes wat die uitstekende Québécoise fliek Deux Secondes al gekyk het, sal ek jou moet herinner aan die toneel toe daai ou, nukkerige Italiaanse fietsmeganikus 'n onnosele filistyn moes uitvee oor die man het gekla oor 'n fiets se prys - 1750$! Terwyl hierdie vulgêriër so tjommel-tjommel gemok het, verklaar die ou Italianer vir hom, "C'est un Marinoni! Tu connais Marinoni?!" Die klant gee toe pad, en die ou kêrel hervat sy arbeid.

Marinonis word in Montréal deur Marinoni self gebou. Hulle is in die Italiaanse tradisie, en die bottom bracket is gevolglik Italian-thread, wat soms 'n irritasie kan wees. Hulle het 'n baie aangename geometrie, maar dis nie te laidback nie, dis steeds aggressief genoeg om 'n mooi vinnige rytjie te volbring. Wat sy storie ook al is, blyk die figuur in Deux Secondes 'n weerkaatsing van hom te wees: 'n Italiaanse immigrant wat na jare se verblyf in Montréal nog steeds met 'n sterk Italiaanse aksent praat en wat fietse nog steeds Italiaans bou en toerus.

Twee somers gelede het ek 'n Marinoni gekoop. 'n Deftige road bike, wat blykbaar nie baie gery is nie, en wat nuut-geverf was deur Chris Kvale - oranjerig met geel in die lug-venstertjies. Met 'n kroom vurk is dit uiters aantreklik, of aansienlik, soos mense in hoeka se tyd gesê het. Les bes, die gruppo was '88 Chorus. Dit was 'n heel fatsoenlike stelsel, sonder 'n dooie, bedonderde stukkie plastiekgoed wat altyd besig om te breek is. Nee, hierdie had skone metaal orals, glansend, sou jy kon sê. Blou cloth handlebar tape het die komposisie voltooi.


Straatskap in Brisbane, Australië.

John Zorn se Electric Masada, 17 Februarie 2006, Walker Art Center, Minneapolis

deur Matthew Tabaka

Dit was, op sy sagste gesê, 'n buitengewone performance buite New York City vir John Zorn op daardie koue dag in Minneapolis. Electric Masada se set was deel van Zorn x 3, 'n driedelige okkasie wat begin het met 'n gesprek tussen Zorn en kurator van uitvoerende kunste Phillip Bither. Die Electric Masada sou die middelpunt van die aand wees, wat oplaas afgesluit is met Music For Films, 'n keuse van films uit die Walker se Rubens Collection deur Zorn op musiek gesit.

Gedurende die gesprek met Bither is Zorn met 'n seloproep van laptop-wizard Ikue Mori onderbreek. Zorn het toe in Japanees begin gesels en oplaas vir die gehoor gesê die band het netnou geland. Dit was 6:15nm, en Electric Masada was geskeduleer om om 7:00 te begin. Zorn het hom daarvan lag-lag afgemaak dat dit die geringste probleem sou wees. Die gesprek het afgerond, en na die finale fynstellings op Cyro Baptista se slagwerk gemaak is, is die ligte verdof en Electric Masada het die toneel betree.

'n Soort van invokasie is geskep, gedryf deur drummers Joey Baron en Kenny Wolleson, wat ekstaties weggehamer het. Toe het hulle in "Tekufah" ingespring, 'n rocking, funky tune wat deur keyboardist Jamie Saft gedomineer was. Saft se enigste keyboard was 'n Fender Rhodes voorgevoeg met 'n klomp effects pedals. Die toon wat hy skep herinner jou aan dié van Keith Jarret en Chick Corea tydens hul termyn by Miles Davis se elektriese spanne. Die heen-en-weer-spel dwarsdeur hierdie set was geniaal, en natuurlik deur Zorn gedirigeer. Liedere begin wanneer hy na 'n bandlid mik - veranderings gebeur net deur handseins. Dit was duidelik waar te neem met die song "Hath-Arob." Dié is die beste voorbeeld van Zorn se game-pieces waarin daar gestruktureerde reëls vir improvisasie is; starts, stops, alles word deur Zorn se snelvuur beduidings bepaal. Daarop het "Karaim", 'n Masada classic, gevolg, wat vanuit 'n intro-chaos gevorm het deur 'n stadigane insinking binne bassis Trevor Dunn se groove in.

Dunn, heelaand in 'n sluipende groove, was die brandpunt van alle songs. Sonder hom sou die musiek geheelenal dekonstrueer het, soos duidelik waar te neem was met die Naked City tune "Metal-Tov" wat harder gerock het as die meeste metal bands doen op hul beste dae. Die atmosferiese "Yatzar" was daarna, wat Cyro Baptista spesiaal geshowcase het. Hy het elkeen verbaas met sy amper telepatiese tydsberekening met Zorn. Haar aanwysings van Zorn se gesigsuitdrukkings gekry, Ikue Mori se laptop effects het tekstuur en kleur aan die improvisasie verleen. Joey Baron en Kenny Wollesen het baie oortuiende argumente gemaak dat hulle basies die beste drummers ter wêreld is. Stukke hout het afgevlieg terwyl Wollesen se drumstick gedisintigreer het as gevolg van sy onophoudende gebons by die set-closer "Idalah-Abal". Kitaarspeler Marc Ribot is 'n meester van sy instrument; die tone wat hy uit sy kitaar uitgelok het was na my eie ervaring ongeëwenaard. Sy afsonderlike surf-sound is soulful, skitterend, die produk van een van die oorspronklikste stemme op die kitaar vandag. Zorn self het sy alto uitmekaar gehaal totdat dit net die mondstuk was, wat hy dan soos 'n eendefluit gebruik het. As saksspeler mag hy bes bekend wees vir sy gillende losbarstings, maar hy besit 'n skitterende, spirituele kwaliteit wanneer hy die Masada tunes bespeel.

Vir die encore het die band 'n nuwe lied wat ek nie herken het nie, gespeel. Dit was die hoogtepunt des awends - dis bes moontlik dit het vanuit die Masada Book Two gestam en is dus een van daardie studio releases. Hierdie nommer was miskien die funkiest en sexiest van alle. Trevor Dunn het deurentyd 'n reusagtige glimlag gehad en Zorn was ook sigbaar opgewonde - hy't so rondgegroove en dans. 'n Allerlaaste, "Lilin", het Electric Masada se opvoering afgesluit. Dit was verligtend, transendent.

Ek het die plesier gehad om 'n paar bandlede na die show te leer ken, en almal was uiters naais, genaakbare, selfs beskeie mense. Kenny Wollesen het my en 'n paar metgeselle na die show by die Dakota kom join waar hy bietjie insig op die groep gedeel het. Interessant was hoe hy gesê het, dat sulke laat aankomste sonder uitvoerige sound check dikwels tot gevolg het dat dit 'n beter performance sal wees, omdat jy nie die tyd het nie om te staan en peins, net tyd om te speel en doen. Hy't gewaai met hierdie woorde wat Zorn altyd aan sy band sê: "Magic is the knowledge that you are free."

- vertaal deur Jeremiasz

Thursday, January 4, 2007



Ou dametjie eet roomys in Brisbane, Australië.

Tuesday, January 2, 2007

Die Heidelberg School en Suid-Afrikaanse Impressionisme

Australië en Suid-Afrika is in baie opsigte eenderse kolonies. Altwee droë lande wat min gelykhede met die Ou Wêreld vertoon, hulle het elkeen sterk onder Engelse koloniale beleid van die neëntiende en twintigste eeu ontwikkel. Dus reis 'n mens na die twee lande, sien jy die ooreenkomste. Toegegee, hul gemeenskaplike wortels is taamlik oppervlakkig - Australië is eers in 1788 gekoloniseer terwyl Suid-Afrika reeds in 1652 bewoon was. Behalwe dat hulle 136 jaar geskeel het, was die Kaap ook kultureel anders, daar dit 'n Nederlandse besitting gewees was. Maar hulle verskille ten spyt, hierdie twee buiteposte van Engeland in die suiderlike halfrond is gerieflik om te vergelyk.

Australië, die gewese bandietekolonie, was snaaks genoeg altyd 'n bietjie liberjaler as Suid-Afrika. (Robert Hughes beskryf in sy nuwe outobiografie die konserwatisme wat tussen 1910-1960 geheers het Down Under, maar dit hoef ons nie te bodder nie. [Jy sien betreklik gou hoedat Australië, die VSA, en Suid-Afrika basies dieselfde rassebeleie tot ongeveer die neëntiensestigs gepromulgeer het. Amerika en Australië het die wysheid daar ingesien om bietjie te ontpan, terwyl Suid-Afrika besig was om te "stay the course".]) Dis dus geen wonder nie dat 'n inheemse skool van impressionisme in 1885 in Australië opgeduik het, terwyl Suid-Afrika ruimskoots 25 jaar moes wag tot 'n eg Suid-Afrikaanse Impressionisme aan die dag sou kom. En toe dit gekom het, het dit dalk wel die Australiese Heidelberg School, gebaseer nie in Duitsland nie, maar in die bos buitekant Melbourne, in Heidelberg, Victoria, oorvleuel.

Hierdie sogenaamde Suid-Afrikaanse Impressioniste het 'n klomp onderskeidelike indiwidue behels. Strat Caldecott, Florence Zerffi, Ruth Prowse, en Hugo Naudé is grootliks in lyn met die tradisionele betekenis van die impressionisme, terwyl mense soos Pieter Wenning, Gregoire Boonzaier, François Krige, J.H. Pierneef, Irma Stern, en Enslin du Plessis egter ekspressionisties te werk gegaan het. Dog hulle het min of meer almal gelyktydig geskilder, en die kultuur waarin almal beweeg het was basies dieselfde. Dus wanneer ons praat van die Suid-Afrikaanse Skool, bedoel ons hierdie breër omvang van konsuis impressionistiese sowel as ekspressionistiese kunstenaars.

Soos bo gesê, is die landskappe in Australië en Suid-Afrika vergelykbaar. Die kwaliteit van líg is gans anders as in Engeland of die Lae Lande. Dis skerper, verkragtender amper. Dis nie die melodiese Franse lig van die noordelike dele waar Monet so rondgeswerf het nie, dis nie die waterig weerkaatsende lig van Holland of Vlaandere nie, en dis ook nie die verdofte halflig van die gedurig bewolkte Britse Eilande nie. Daardie ligte is ronder en subtieler. In Australië en Suid-Afrika skyn die son deur 'n dunner atmosfeer, daar's minder wolke, en boonal land die son se strale op veral oranje-rooierige rotse, bodem. Dus kom twee skilders ter sprake, Strat Caldecott en Arthur Streeton. Albei beelders was merkwaardig omdat hulle die eerstes was om die bos eerlik te weergee in 'n eg westerse idioom, in hoofsaak omdat hulle die helse sonskyn kon behandel. Voorafgaande mensies wat pen, penseel, of kwas tot ditsy papier, ditsy skilderdoek gebring het - met Europese, verkrampte oë - het hul omgegewe milieu nie ordentlik kon síén nie. Alles was deur 'n Europese prisma gefilter. Dit had ten gevolge dat alles vóór Heidelberg of die Suid-Afrikaanse Skool derivatief en vervelig is.

Tog is die suiderlike impressionisme wat hier bepraat word, ook self derivatief. En die Suid-Afrikaanse kunstenaars wat hul daar mee besiggehou het, het grotendeels verslaaf geraak aan die ekspressionistiese tegnieke wat jare vantevore in Duitsland en Oostenryk gekweek en uitgeput is. Dis natuurlik nie om hulle belangrikheid te kleineer of onbillik te wees nie, maar jy raak bietjie teleurgestel as jy sien hoe Australiese kunstenaars soos John Olsen, Russell Drysdale, en veral Ian Fairweather hul antipodeaanse stemme ontwikkel het tot 'n eg inheemse idioom. Hul skilderye, elk op sy eie manier, weergee die wese van die "bush", en weerspieël in groot mate die estetiek van Aboriginal kuns. Suid-Afrikaanse "ekspressioniste" was darem hul vakgenote in Australië vooruit wat betref die ekspressionistiese styl, maar hulle het, nes hul land se politiese beleie, sommerso in die dertigs gestagneer.

Die groot afwykings in landskap en atmosfeer tussen lande soos Suid-Afrika of Australië en Europese lande soos Groot Britanje of Nederland het 'n nuwe, of dalk net 'n hérnieude skilderkuns in die lewe geroep. Dié was hoofsaaklik 'n reïnterpretasie van bestaande skilderskole. In hierie opsig lewer die Suid-Afrikaanse en Australiese Impressioniste gewigtige, insiggewende bydraes tot die wêreld van westerse kunste. Maar dis nogals te betreur dat Suid-Afrika onder sy eie verkramptheid moes stik terwyl die "Lucky Country" aanhou voortontwikkel het.

- 'n Uitstalling Australiese Impressionisme sal by die National Gallery of Victoria op 31 Maart begin.

Monday, January 1, 2007



Mans op straat in Brisbane, Australië.

Thursday, December 28, 2006

Duskant die Sonsondergang

Ontwortel met behulp van Before Sunrise en Before Sunset

Die St. Paulse winter het my aan dié stad se Verlore Seun, F. Scott Fitzgerald, laat dink. Ek hét immers sy eertydse huis verbygestap op pad hierdie vodka bar toe. Maar hier, naas die venster wat uit op Selby Avenue uitkyk, bespeur jy dit reg erg. Hierdie kwaliteit van líg is gans anders as in Kaapland, dis verdof en tegelykertyd strata-ophelderend. Jy síén die lae van die rooi sandsteen en die gesiggie van Garrison Keillor in sy boekwinkel daar anderkant die straat en dit maak sin.

Daar's hy! Ons skud hande. George se hande is groter as myne, sy greep sterker. My hand word elke keer amper gesmash. Maar ons sit ons by die venster en bestel waterige Russiese bier en ieder 'n skut Poolse wódeczka. Na zdrowie! Natuurlik skakel die gesprek oor tot die vrouevraagstuk. Hy vertel my van Jessika, ek hom van Liens...

HAAR GEBABBEL HET NOU REGTAG GEGRIL, HIERDIE DUITSER. Ek móét hier wegkom. Bepeins opsies. Ek kan 'n vars bier gaan kry. Of daar in die hondehuisie 'n splief rook saam met Danie-hulle. Of net Strand toe en dalk 'n draai by 7-Eleven maak om droëwors te koop. Nimmereindigende gepreek hou aan. Wat sê sy? O, ja, ja, Amerika's vreeslik. Ja, dankie vir die analise, so veel het ek nie geweet nie, ek het net daar grootgeword saam met al daai bullshit. Maar dankie vir jou ingeligte insigte van buitekant. Die oë word suwwer, die gees begin waai oor die Hottentots-Hollandse oorberge.

Dan nes 'n blits sonder geklap kom L. al swaai-swaai aangestap, gaan buite om in die oranje Kaapse lug haar rooi lokke te laat saggies beweeg in die seebries.
(Rooierige sonsproetjies agter wit linne, petale van blomme se reuk, die tafel(berg) is bedek, en die son begin water trek)

Ek weet nie of die afstand tussen ons die vinnigste of die stadigste te oortree was nie, maar deftig oorbrûend het ek hierdie Juliet bejeën, en buite in Strand se ope lug(kastele) het haar oë my skuins betrag en haar norratjie was déél van my lippe, om dit te soen was nes om smôrens op te staan, nes gebore te wees - gedoen sonder denke. Dis die verskil tussen weet-weet en kennisweet. Dis om staan-staan te verstaan.
(Die maan praat Afrikaans)

En naderhand loop als tot einde en toe sy begin vertrek, al wuiwende tot siens!, tot siens!, beduie ek spasties, oplaas 'n uitbraking, "Kom ons drink 'n wyntjie môre!" Ja, okay, so teen mirrag. Ek ontspan, uit(w)asem, sink met 'n versadigde glimlaggie in die seties in.
(Jy sal maar geprogrammeer word/ om jou eie land- en sielskappe te kan eerbiedig/ om jou eie plek in die wêreld te herken/
Maar dis soms nie te helder nie/ wolke teen jou oë wat skaduwees skep uit die berge/ maar daai berge is nie onbereikbaar nie/ bietjie deursien soms deurmekaar/ maar in die hand/
Hulle is die speelgrond vir die voëltjies/ wat jy gegooi het om jou liefde te gaan soek/
Sy's daar/ waggend binne beperkte kamertjies waarvoor net jy die sleutels het/ sy's daar/ draend aan jou hart met saggies woorde/ hulle sal jou touwysmak/ om deur die liefde te gaan swem/
Volg die lyne van die vlieënde voëls om jou berge/ hierdie kraglyne sal as uitwys en inwys/ en als fungeer ten einde dat jy jouself sal leer ken en kennis is goed so dankie/
En binne-binne jou gedagtes lê die webbe van jou lewe/ van, om jou/
En tussen hulle takkies osileer die blou duisternis wat jou opvul, optree/ bly maar)


Vanmirrag se saamstap - wat kan ek sê? Arms verwikkel, ek kon haar borsie voel vry(we) teen my armpie. En dan was ons by die café, snags, en ek kon verseker Ou Antjie van die heuwels se doolplek waarneem - sy't ons nydig beoog terwyl ons praat-praat het. Ons gesprekke is nie te onthoue nie, ek't net aan die opdoemende vertrek Oostenryk toe gepeins. Maar toe ons klaar was, toe ek haar vergesel het tot by haar groen bakkie het ek haar moes vang en ons siele het gesmelt in een oomblik, het heel Stellingbos ontplof as ons nukleêre lippe aanmekaargeheg het. Klokke het uit mekaar uitgeval, ek het gesterf.

Die aand begaan sy gang, George en ek raak vaker, en buitendien is ons besig om vaer al hoe vaer die omgegeede te ontwaar. Verplaas jou vanuit die arms van Dionisus in dié van Morfeus. Ons gaan, skud die hand (gesmash maar nie so opmerklik nie danksy die verdowende Warskouse vuurwater - dis eintlik lewenswater). Terug by die huis, sit die dvd in die komper. Jesse en Céline se verhaal word vorentoe onthaal. Ag, Lientjies...